Voortrekkermonument - Tapiseries

www.boerafrikana.com: Tuisblad > Monumente > Voortrekkermonument

H ierdie wonderlike kunswerke beeld die daaglikse lewe van die Voortrekkers uit. Hulle was die pioniers van Suid-Afrika, in die jare tussen 1834 en die 1840s. I n 1952 het 'n groep vroue besluit om die Voortrekkervroue te eer op 'n manier wat vir die nageslag 'n kykie sou gee op die moeilike lewe en kommer van daardie jare. Hulle wou 'n sagte, kleurryke monument skep vir die baanbrekers van hulle geslag, wat 'n eeu tevore die binneland help tem het.

Die Suid-Afrikaanse kunstenaar, WH Coetzer, is genader om die groot doeke te ontwerp en te skilder. Dit sou die planne vir die borduurwerk wees.

Uit 'n grootse kombinasie van verfkwas en borduurnaald het talent en vernuf saamgespan om hierdie wêreldberoemde meesterstukke te skep. Dit was deels moontlik omdat die kunstenaar die vroue kon bystaan wanneer hulle 'n besonder ingewikkelde gedeelte moes borduur, byvoorbeeld die skadu's en vlakke van 'n gesig. 'n Kunstenaar kan verf meng totdat die regte skakering bereik is, maar vir borduurwerk is 'n mens beperk tot die kleure van beskikbare wol.

Coetzer het hierdie probleem oorkom deur die kleure van sy verf te meng volgens die kleure van die wol. Daarna het hy sy verfmengsels dieselfde nommers gegee as dié van die wol.

Agt jaar later, in 1960, is die projek voltooi en was dit gereed vir uitstalling.

Die kunstenaar het nie net daarin geslaag om 'n pragtige monument van kunswerke te skep nie, maar hy het die tapisserieë gevul met kleiner detail, met emosie en simboliek.

Bron: Meeste inligting uit die Voortrekkermuseum
Foto's van poskaarte

 

Tapiserie 1 - Die Uittog

Die verhaal begin met die boere wat hulle afgesonderde, dog gerieflike Kaapse woonhuise verruil vir die onseker, ongemaklike lewe in 'n ossewa. Een van die eerste werke toon die voorbereidings en vertrek uit die Kaap, op soek na 'n nuwe plek om te woon. Op die voorgrond kan duidelik gesien word dat gereedskap, kos en ander belangrike items vir oorlewing opgelaai moes word. In die agtergrond sien 'n mens die beeste en ander diere wat deur kinders en plaaswerkers bymekaargejaag word.

 

 

Tapiserie 2 - Blye Vooruitsig

Hulle is vol hoop uit die Kaap weg, gevul met hoop om 'n beter lewe vir hulself en hulle kinders te vind in die onherbergsame binneland.

 

 

Tapiserie 3 - Die Storm

Storms, reën, siekte, aanvalle deur wilde diere en onvriendelike stamme - dit alles moes die hoof gebied word met slegs die ossewaens en voorlaaier-gewere as beskerming.

 

 

Tapiserie 4 - Vegkop

Dikwels word die waens uitgebeeld in 'n sirkel, bekend as 'n laer. Die waens is so na as moontlik aan mekaar getrek en doringtakke onder die wiele ingeruk in 'n poging om wilde diere en indringers uit te hou.

In die gevegstonele toon die kunstenaar hoe elkeen betrokke was in 'n poging om die veiligheid van die Trekkers te verseker. Vroue en groter meisies het agter die mans gestaan en die vuurwarm gewere herlaai. Hulle moes ook lood smelt en nuwe patrone giet. Jonger kinders moes help om na gewondes om te sien. Jong seuns is van vroeg af geleer om te skiet, en moes hulle deel doen.

 

 

Tapiserie 5 - Thaba Nchu

Hierdie toneel beeld Potgieter se groep uit waar hulle by Thaba Nchu by die goedgesinde Barolong-stam uitgespan het.

Dit herinner 'n mens dat daar nie net konflik tussen die onderskeie groepe was nie, maar ook verdraagsaamheid en behulpsaamheidheid.

 

 

Tapiserie 6 - Begrafnis in die Veld

Vyandige stamme was nie die Voortrekkers se enigste of grootste probleem nie. Siektes soos malaria en die tsetsevlieg, wat slaapsiekte veroorsaak, was onbekend en het baie sterftes tot gevolg gehad.

 

 

Tapiserie 7 - Oor die Drakensberg

Om die hoë berge oor te steek in waens wat alles bevat het wat hulle besit, moes 'n senutergende ondervinding gewees het, om die minste te sê. Dit is ook die Voortrekkers wat die Drakensberge hulle naam gegee het - "draken" is die Hollandse woord vir 'n draak.

 

 

Tapiserie 8 - Oranjerivierkruising

Om die woeste waters van die Oranjerivier oor te steek na die gebied te wat later sou bekend staan as die Republiek van die Oranje-Vrystaat, was nog 'n gevaarlike oefening vir die handjievol Trekkers.

 

 

Tapiserie 9 - Herstel van die Wa

As iets gebreek het, soos 'n wawiel, moes almal uitspan om dit te herstel. Dit was nie soseer dat almal moes help nie, maar om die veiligheid van die groep te verseker.

 

 

Tapiserie 10 - Boekevat

Uit die tapisserieë word dit duidelik dat hierdie dapper mense hulle gewoontes, lewenswyse en godsdiens voortgesit het, waar hulle ook al in die wildernis was.

Boekevat was een van die gewoontes wat baie streng nagekom is. Die patriarg sou 'n gedeelte lees (dit was die tyd toe Psalm 119 enduit gelees is) en die kinders moes luister en later verslag doen van wat hulle gehoor het. Die Bybel is gebruik vir leeslesse, as opvoedkundige handleiding en om die klein samelewing te hanteer en reguleer.

 

 

Tapiserie 11 - Bloedrivier

Die grootste gedeelte van die Trekkers wou graag in die vrugbare area oorkant die Drakensberge vestig. Dit is die gebied bekend as Natal. Voordat hulle kon grond beset, moes hulle met die Zoeloes onderhandel. Hierdie nasie was 'n trotse ras in beheer van die Natal-gebied.

'n Ooreenkoms is bereik tussen die Voortrekkerleier, Piet Retief, en die koning van die Zoeloes, Dingaan.

Maar die ooreenkoms is van die Zoeloes se kant af verbreek. Terwyl die Trekkers in die Zoeloes se kamp by Umgundgundlovo geëet het na die ooreenkoms, het Dingaan opdrag gegee dat hulle doodgeslaan moet word. Die 70 blanke vrywilligers en sowat 30 swart helpers is omring deur die Zoeloes en tereggestel op 'n heuwel net buite die koning se kraal.

Ontnugter en leierloos het die Voortrekkers in Retief se groep 'n boodskap aan Andries Pretorius gestuur om hom te vra om ook hulle leier te wees. 'n Ooreenkoms is gesluit om Zoeloes te straf. Die Voortrekkers was egter baie bewus daarvan dat hulle net 'n klein groepie was teenoor die massa Zoeloes. 'n Eed is voor God gesweer, dat die dag van die botsing altyd herdenk sal word as 'n heilige dag indien God hulle help om die Zoeloes te oorwin. Sarel Cilliers het die eed opgestel en aan die Voortrekkers voorgelees.

Die veldslag het op 16 Desember 1838 plaasgevind, by die rivier wat later Bloedrivier genoem is na aanleiding van die bloed wat daar gevloei het. Die Voortrekkers het die slag gewen.

Dingaan het gevlug en is later vermoor deur sy halfbroer, Mpande, wat die leierskap van die Zoeloes oorgeneem het. Hy was die Voortrekkers goedgesind. Hulle kon nou in Natal grond besit. Die eerste Boererepubliek is daar gestig.

 

 

Tapiserie 12 - Bloukrans

Nog 'n gevegstoneel, hierdie keer die geveg by Bloukrans.

 

 

Tapiserie 13

 

 

Tapiserie 14

Coetzer slaag daarin om die daaglikse lewe in besonderhede uit te beeld, en plaas besondere klem op die rol wat vroue en kinders gespeel het. Hulle was letterlik die tentpale wat die hele brose bestaan staande gehou het.

Die vroue was altyd geklee in lang rokke en die Voortrekkerkappies, wat 'n breë rand gehad het en onder die ken vasgebind is. Die skerp Afrika-son het die sagte Europese velle verniel. In die nag is die hare bedek met 'n sagte kappie.

Let ook op die besonder slim detail in verskeie van die tonele, byvoorbeeld 'n kremetartboom of 'n spesifieke berg, wat terselfdertyd ook die Voortrekkers se roete uitbeeld.

 

 

Tapiserie 15

Coetzer sluit die verhaal af met 'n simboliese samevatting. Die wit krul in die middel is ook 'n voorbeeld van die tipiese Kaaps-Hollandse boustyl.

Die kunstenaar se voorletters en die naam van die vroue wat die borduurwerk gedoen het, kan in die hoeke van elke tapisserie gesien word.

 

(English description http://members.tripod.com/~meerkat_2/etapess.html)

 

bo-aan bladsy
Hoofblad | Web meester