Die Vaalrivierslag (26 Augustus 1836)

www.boerafrikana.com: Tuisblad >

Die Vaalrivierslag (26 Augustus 1836)

Intussen besluit Stephanus Erasmus om met elf man van die Botha-laer sy kamp te besoek. Hulle bemerk egter die aanstormende horde Matabeles en jaag terug laer toe om Botha hulle te waarsku. Die Trekkers maak gereed - die mans neem stelling in en die vrouens is langs hulle om die gewere te laai en aan te gee. Teen negeuur verskyn die Matabele-impi wat nou aangegroei na 1000 krygers. Hulle hou terug tot ongeveer tienuur toe hulle met die geskal van hulle oorlogskrete 'n stormloop loods. Die Trekkers skiet en stuit die swartes wat terugval, hergroepeer om 'n halfuur later weer aan te val. Die stormlope duur tot nagenoeg drieuur die middag en die krygers word telkens deur soveel geweervuur begroet dat hulle uiteindelik terugtrek. Met behulp van nog 'n roofparty steel hulle alles wat hulle in die hande kry. Een seun, Christiaan Harmse, is die enigste Trekker wat in die laer sterf, terwyl 'n aantal gekleurdes buite die laer vermoor word. Die Matabele verloor 150 krygers. Twee kommando's sit hulle agterna - een in die rigting van die verwoeste Liebenbergkamp waar die oorlewendes gered word. Jacobus Hamman bemerk hoe 'n kryger met 'n kind probeer ontsnap, sit hom agterna, dood hom en red die kind, Bennie Liebenberg. Die 24 gesneuwelde Trekkers word begrawe en hulle waens saamgeneem. Stephanus Erasmus keer weer terug na sy kamp en vind die lyke van sommige van sy bediendes. Daar is egter geen teken van sy twee vermiste seuns of van Kruger en Claasen nie, en hulle oorblyfsels word nooit gevind nie. Sy waens is gesteel en die spore lei duidelik na Mosega, die Matabele se hoofstad. Twee dae na die slagting word geweervuur gehoor wat die terugkoms van Hendrik Potgieter en Sarel Cilliers met die lede van hulle ekspedisie aankondig.

bo-aan bladsy
Hoofblad