Piet Retief

www.boerafrikana.com: Tuisblad > Mense
Oorsake van die Groot Trek
 
Groot Trek leiers
Andries Pretorius

 

 

Gerrit Maritz

 

 

Hendrik Potgieter

 

 

Karel Landman

 

 

Louis Trichardt

 

 

Piet Retief

 

 

Sarel Cilliers

 

 

Piet Uys
 
Piet (of Pieter) Retief, Voortrekkerleier gebore in 1780 op die plaas Welvanpas naby Wellington, Wes-Kaap. Verhuis as jongman na die Oos-Kaap en vestig hom op die plaas Mooimeisjesfontein. In 1814 trou hy met Magdalena A. Greyling, weduwee van veldkornet Abraham Greyling van Albanie. Na sy huwelik het Retief hom permanent aan die oosgrens van die Kaapkolonie gevestig en is hy beskou as die rykste man in die distrik Albanie. Hy ervaar baie wisselvallighede in boerdery én sake. Hy veg in die grensoorloë en word in 1822 aangestel as veldkommandant van die distrik Albanie. Na mislukte besigheid in Grahamstad het hy in die Winterberg gaan boer, waar hy die nie-amptelike leier en die algemene voorspraak van die hele boeregemeenskap by die Regering was. Na die grensoorlog van 1834/’35het hy as pleitbesorger opgetree van die verarmde grensbewoners teenoor luitenant-goewerneur Stockenström. Hy word woordvoerder vir Trekkers in krisis wat uitloop op die Groot Trek. Word een van hulle leiers. Reik geskiedkundige manifes uit op 22 Januarie 1837 om die doel van die Groot Trek te verduidelik.

Drie maande later is hy en sy geselskap by die ander Emigrante tussen Thaba ’Nchu en Vetrivier. Maritz en Potgieter was toe pas terug van die strafekspedisie teen Silkaats; dog ondanks die gewig wat hierdie prestasie in die skaal gewerp het en die feit dat Retief se geselskap nie die grootste was nie, is hy tot Goewerneur van die Emigrante gekies. Sy eerste taak was om vrede te maak tussen Potgieter en Maritz, wat intussen nie meer so goed met mekaar oor die weg kon kom nie. Daarna het hy verdrae van vrede en vriendskap gesluit met die naburige inboorlingkapteins soos Moshesh, Maroko, Tawane en Sikonyella. ’n Tydperk van besluitloosheid het nou gevolg, daar dit nie ’n maklike taak was om die toekomstige tuiste van die Emigrante te kies nie. Hy sou daarheen gaan en van die Zoeloekoning Dingaan ’n stuk grond vir sy mense ruil. Intussen het hy briewe aan luitenant-goewerneur Stockenström gerig om die planne van die Trekkers uiteen te sit en hul onafhanklikheid te beklemtoon. Hy skryf onder andere: “Ek het my geboorteland nie verlaat om in duisternis te leef met die Britse Regering of met diegene van my medeburgers wat agtergebly het nie; dit is my sterk begeerte om ’n vrye verkeer met hulle te handhaaf.” Ondanks alles wat hy en sy landgenote in die Kolonie moes verduur, is hy te grootmoedig om enige gevoel van vyandigheid te koester.

In Port Natal is Retief baie hartlik deur die Engelse nedersetters aldaar ontvang, wat hom oom ’n adres aangebied het. Dit is bekend hoe hy van Dingaan die belofte verkry het van ’n groot stuk grond, op voorwaarde dat hy ’n aantal beeste sou terugbring wat deur Sikonyella gesteel is. Al moes dit vir Retief ’n baie vernederende opdrag gewees het, het hy nietemin toegestem, omdat hy besef het dat daar groter belange as eie eergevoel op die spel was. ’n Ekspedisie het na Sikonyella gegaan, hy is met ’n lis gevang en die gesteelde vee is daarop teruggeneem. By die laers teruggekeer, op weg om die vee aan Dingaan terug te besorg, is Retief van verskeie kante, onder andere deur Maritz, versoek om nie weer na Umgungundlovu te gaan nie. In sy opregtheid, en ook miskien omdat hy nie voldoende kennis gedra het van die mentaliteit van die inboorlinge nie, het Retief nooit aan verraad gedink nie. Buitendien wou hy dit nie waag om Dingaan ook maar die minste aanstoot te gee of agterdog by hom te wek nie, want dan kon hy dalk weier om die koopkontrak te teken. Hy het dus verkies om liewer sy eie lewe in gevaar te stel. Die gevolg was dat die noodlottige tog, wat op die vreeslike moord van 6 Februarie 1838 uitgeloop het, met sewentig uitgesoekte manne onderneem is.

Die dorp Piet Retief, in Transvaan (nou Mpumalanga) is na hom vernoem en die hoofstad van (Kwazulu-) Natal, Pietermaritzburg na hom en Gert Maritz.

Hierdie beeld (of ander media) is tans in die publieke domein, omdat die kopiereg daarvan verval het.
Dit geld vir lande in die Europese Unie, die Verenigde State, Kanada en alle ander lande waar kopiereg 70 jaar na die dood van die outeur verval.

Piet Retief se trek
Retief vertrek vroeg in Februarie 1837 en in Maart 1837 steek sy trek die Oranjerivier by Buffelsvlei (tans Aliwal-Noord) oor. Die Trekkers in die Transoranje stuur twee manne om hom tegemoet te gaan. Ook Gerrit Maritz ry hom tegemoet en deel hom mee dat die Trekkers begeer dat hy hom as leier beskikbaar moet stel. Retief maak aanvanklik beswaar maar op Maritz se aandrang laat hy hom dit welgeval.

Retief word 17.4.1837 tot Goewerneur en Maritz tot magistraat verkies. Retief aanvaar sy groot taak en moet nou aandag gee aan veral drie sake: die Trekkers se verhouding tot die omliggende Nie-Blanke volke, die eindbestemming van die Trek en die reëling van godsdienstige aangeleenthede. Retief sluit verdrae van vriendskap en vrede met verskeie Bantoe-kapteins, soos Moroka, Mosjwesjwe, Sekonyela en Towane, maar sy pogings om met Mzilikazi te onderhandel, slaag nie. Hy neem hom voor om met Dingane te onderhandel oor woongebied in Natal vir die Trekkers.

Retief glo dat Natal die ideale bestemming vir die Trekkers is, want dit bied die geriewe om met die buitewêreld in verbinding te tree en handel te drywe. Potgieter gee voorkeur aan die gebied anderkant die Vaalrivier en weier om Natal toe te trek. Retief word deur Maritz en ook Pieter Uys gesteun wat na Retief by die Trek aansluit. Retief beweeg nou ooswaarts om hom in Natal te vestig; sy laer bly egter wes van die Drakensberge onderwyl hy met vyftien man en vier waens op 'n sending na Dingane vertrek om met hom te onderhandel oor grond. Hy kom teen die middel van Oktober 1837 op Port Natal aan en word baie hartlik verwelkom deur 'n aantal Engelse handelaars. Toe hy sy reis teen die einde van Oktober teen die kus langs na Dingane voortsit, vergesel Thomas Halstead hom as tolk. Retief vra Dingane hom per brief om hom te ontmoet en verduidelik die doel van sy besoek. Retief ontmoet die koning in die teenwoordigheid van eerw. Francis Owen, 'n sendeling wat kort tevore by die hoofkraal geplaas is. Dingane beskuldig Retief dat die Boere sy vee gesteel het, alhoewel hy daarvan bewus is dat Sekonyela, 'n baTlôkwa-kaptein, eintlik die skuldige is.

Retief wys hom daarop en Dingane beloof om die gebied tussen die Tugela en die Umzimvubu aan die Trekkers af te staan indien Retief die gesteelde vee aan hom terug besorg. Retief vertrek op 8 November 1837 vanaf Mgungundhlovo oor Port Natal terug na sy waens. Toe die Trekkers die gunstige uitslag verneem, begin hulle dadelik om teen die Drakensberge af te trek en versprei oor 'n wye gebied. Retief slaag daarin om die beeste van Sekonyela terug te kry en neem ook 'n boete van 'n klompie perde en gewere. Retief besluit onverwyld om 'n tweede besoek aan Dingane te bring en vertrek op 25 Januarie 1838 na Mgungundhlovo met ongeveer sestig (sommige dokumente se 70) vrywilligers, insluitende sy eie seun en nog drie minderjariges, asook dertig agterryers.

Onbewus van Dingane se wantroue teenoor die Blankes in Natal, kom Retief en sy manskappe op 3 Februarie 1838 by Mgungundhlovo aan. Omdat Retief oortuig is van die koning se goeie bedoelinge vertoef hulle nog nadat Dingane die grondbrief, gedateer 4 Februarie 1838, onderteken het waarin hy ten gunste van Retief en die Trekkers afstand doen van die gebied tussen die Tugela en die Umzimvubu wes van die land van die Zoeloes, en noordwaarts van die see tot so ver as wat dit vir hulle bruikbaar is. Retief verkeer onder die indruk dat 5 Februarie 'n Sondag is, besluit hy om eers op 6 Februarie 1838 te vertrek.

Dingane ontbied sy hele gevolg om hom te groet en deur hom onthaal te word. Soos dit die gewoonte is, verskyn hulle ongewapend voor die koning. Terwyl hulle bier drink en na die dansende Zoeloes kyk, gee Dingane bevel dat die towenaars gedood moet word. Die slagoffers word gesleep na die galg-heuwel, kwaMatiwane, vermoor en aan die aasvoëls oorgelaat.

Piet Retief moord    
 
Foto: Enigmatic Traveler, Flickr, 2010    

 

Dieselfde dag nog vertrek die Zoeloes om die niksvermoedende Trekkers by Bloukransrivier, Moordspruit, Malanspruit en Boesmansrivier aan te val; hierdeur word die Trekkers in Natal in die onbeskryflikste ellende gedompel.

Tien maande later word die Zoeloemag te Bloedrivier deur Andries Pretorius en sy makkers gebreek (16 Desember.1838). Dingane vlug nadat hy sy stat aan die brand gesteek het. Die oorwinnaars vind die beendere van Retief en sy geselskap op kwaMatiwane, asook Retief se leertas met die grondskenkingsakte nog daarin. Die beendere word in 'n gesamentlike graf geplaas waarop later 'n gedenkteken aangebring is.

PIETER MOURIETS (PIET) RETIEF sou dié samebindende leier van die Groot Trek kon geword het, as dit nie was dat die Voortrekkers sulke inherente individualiste was nie. Hoogs bekwaam en geëer, sou die mantel van goewerneur wel dadelik op hom val die oomblik toe hy hom by die ander trekkers aansluit, maar hierdie aanwysing het ongelukkig nie die leierstryd laat verdwyn nie.

Hy was ’n sakeman, en waarskynlik ook die geleerdste onder die trekkers. Hy het met 120 weerbare manne en sowat honderd waens gekom, en in dié was ook sy vrou, Magdalena (vroeër die weduwee Greyling), en hul twee seuns en twee dogters. Sy dogters was albei so mooi dat dit aanleiding gegee het tot die naam van sy plaas by Riebeek-Oos—Mooimeisiesfontein.

Maar een van die tragedies in sy lewe was dat mislukte sakebedrywighede hom in 1832 vir ’n kort rukkie in die sogenaamde “debtors’ yard” in die Grahamstadse tronk laat beland het.

Retief (gebore in die Wamakersvallei, Wellington, op 12 November 1780 en gedood by Dingaanstat, Zoeloeland, op 6 Februarie 1838) was die skrywer van die bekende Retief-manifes. Daarin het hy die redes bekend gemaak waarom die trekkers die Kaapkolonie verlaat. Sowat honderd jaar later sou ’n geleerde nog sê dat die geskiedenis van die hele Suid-Afrika tot op daardie tydstip net kommentaar op die Retief-manifes was.

Die verhaal van sy dood is oorbekend: hoe hy van die Zoeloekoning Dingane die belofte gekry het van ’n groot stuk grond, wat alles daartoe gelei het dat hy, sewentig manskappe en ’n groot aantal agterryers doodgemaak is.

Daar bestaan, sover bekend, geen outentieke afbeelding van Retief nie. Hy het aan die Oosgrens wel ’n skildery van hom laat maak wat ongelukkig verlore gegaan het. Ons illustrasie is gegrond op die bekende “identikit” wat deur Eric Stockenström saamgestel is, gebaseer op die gesigte van Retief se broer en suster.

Uit oorlewering weet ons dat hy ’n man van middelmatige grootte was, effens donker van kleur, met swart hare en baard en ernstige maar vriendelike gelaatstrekke.

“Uit alles,” skryf Die Huisgenoot in Desember 1938, “kry ons die indruk dat hy ’n gebore leier was, ’n man met ’n sterk persoonlikheid en groot deursettingsvermoë, maar daarby was hy sagmoedig en vriendelik van aard en ’n man van innerlike godsvrug. Die verslaendheid en gevoel van hulpeloosheid wat sy heengaan onder die trekkers veroorsaak het, was meteens die maatstaf van sy grootheid.”
Daar is twee verklarings vir die oorsprong van die naam van Pietermaritzburg, die hoofstad van die provinsie KwaZulu-Natal.  Die bekende verklaring is dat dit genoem is na Piet(er) Retief sowel as Gerrit Maritz. Volgens ’n tweede verklaring is Piet Retief egter alleen vernoem en is sy voorname—te wete Pieter Mouriets—opgeneem in “Pieter Mouriets Burg”, wat later as Pietermaritzburg herinterpreteer sou word. Die dorp Piet Retief in die provinsie Mpumalanga dra ook Piet Retief se naam.

 

PIET RETIEF SE TRAKTAAT
Retief kies die vrugbare Natal met sy goeie reŽnval as nuwe tuiste. Op Sondag, 5 November 1837 kom Retief en 'n geselskap van 5 Boere en 'n Engelse tolk aan by Umgungundlovu ("Die Plek omring deur Olifante" in Zoeloe) met die doel om met die Zoeloekoning, Dingane, te onderhandel oor die koop van 'n onbewoonde gebied. Tydens die onderhandelinge beskuldig Dingane vir Retief se mense vir die diefstal van ongeveer 300 beeste uit een van die Zoeloekrale.

Retief vermoed egter dat Sekonyela vir die roof verantwoordelik is. Dingane daag Retief om sy onskuld te bewys deur een van sy kapteins en die vee se eienaars saam te neem en die vee terug te bring. As dit so was soos Retief beweer het, sou Dingane die grondgebied aan die Trekkers afstaan. Retief het die gesteelde vee by Sekonyela afgeneem en daarmee op Saterdag, 3 Februarie 1838 teruggekeer na Umgungundlovu.

Die traktaat, gedateer 4 Februarie 1838, is aan Dingane voorgehou vir ondertekening.Umgungundlovu, 4 Februarie, 1838:

"Laat alle mense hiermee weet dat Nademaal Pieter Retief Goewerneur van die Hollandse Emigrante Suid Afrikaners my beeste teruggeneem het wat Sekonyela gesteel het welke beeste hy die genoemde Retief nou aan my oorlewer - Ek Dingane, Koning van die Zoeloes sertifiseer en verklaar hiermee dat ek dit reg geag het om aan hom hierdie genoemde Retief en sy landgenote af te staan (as vergoeding vir die saak hierbo genoem) die plek genoem Port Natal [die huidige Durban] saam met al die land aangrensend daaraan, dit wil sÍ vanaf die Tugela tot die Umzimvubu Rivier weswaarts en vanaf die See Noord so vÍr as wat die land bruikbaar mag wees en in my besit wat ek hiermee gedoen het en dit aan hulle gee as hulle ewigdurende besitting.:

Nadraai: Nadat Dingane vir Retief en sy geselskap vir etlike dae getrakteer het met danse, sang en vertonings van Dingane se beeste, is die Boere uiteindelik op 6 Februarie na Kwa-Matiwane (Moordkoppie) gesleep en wreedaardig omgebring. Saam met Retief is 70 metgeselle (waaronder 4 kinders) en 30 agterryers vermoor.

Daarna sou die Zoeloekrygers uittrek teen die walaers wat in afwagting aan die bolope van die Tugelarivier gestaan het. Veral by Bloukrans en Moordspruit was die lewensverlies groot. Na die slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838 vertrek Andries Pretorius dadelik na Umgungundlovu. Dingane het egter die stat afgebrand en gevlug voor die aankomende kommando van Pretorius. 21 Desember bereik die kommando Moordkoppie, waar hulle sommige van die beendere kon uitken aan die stukkies klere en ander besittings. Ook Retief se waterfles en aktetas word gevind, met die traktaat nog ongeskonde in die aktetas. Die geselskap se oorskot is in 'n massagraf aan die voet van Moordkoppie begrawe.

 

PIET RETIEF SE MANIFES Piet Retief het aanvanklik die saak van die Kaapkolonie se grensboere aan die pasaangestelde luitenant-goewerneur van die Oostelike Provinsie, Andries StockenstrŲm probeer stel in die hoop dat daar 'n spoedige verandering in die toestande sou kom. Toe dit egter duidelik word dat StockenstrŲm niks aan die saak wil doen nie, besluit Retief finaal om Gert Maritz, Sarel Cilliers en ander Trekkers die binneland in te volg.

Hy handel sy persoonlike sake af en stel die Trekkers se griewe formeel op skrif. Hierdie manifes word op 2 Februarie 1836 in The Graham's Town Journal gepubliseer deur Louis Meurant, persoonlike vriend van Retief en eienaar van die koerant. Manifes van die Emigrante-Boere. 'n Dokument is aan ons oorhandig, met 'n versoek om publisiteit daaraan te gee, wat voorgee die oorsake van die emigrasie van die koloniale boere te wees - waarvan die volgende 'n letterlike vertaling is:

"Baie berigte is in die kolonie versprei, klaarblyklik met die bedoeling om in die gedagtes van ons landgenote 'n gevoel van vooroordeel gaande te maak teen diegene wat besluit het om uit die kolonie te emigreer waar hulle baie jare 'n reeks van uiters ergerlike en ernstige verliese gely het; en omdat ons gretig is om hoog aangeskryf te wees in die agting van ons broeders, en ons begerig is dat hulle en die hele wÍreld moet glo dat ons nie in staat is om heilige bande te verbreek wat 'n Christen aan sy geboortegrond bind, sonder baie grondige redes nie, is ons genoop om die volgende opsomming te gee van ons motiewe om so 'n belangrike stap te doen; en ook ons voornemens met betrekking tot ons handelswyse teenoor die Inboorlingstamme wat ons moontlik oorkant die grens sal ontmoet.

1.Ons gee moed op om die kolonie te red van daardie euwels wat dit bedreig weens die oproerige en oneerlike gedrag van leeglopers wat toegelaat word om die land oral te teister, ook het ons geen vooruitsig van vrede en geluk vir ons kinders in 'n land wat so deur interne toestande verwar is nie.

2.Ons kla oor die swaar verliese wat ons gedwing is om te ly deur die vrystelling van ons slawe, en die ergerlike wette wat aangaande hulle verorden is.

3.Ons kla oor die aanhoudende stelsel van plundering wat ons gedurig moes verduur van die Kaffers [Xhosas] en ander gekleurde klasse, veral tydens die laaste inval in die kolonie, waardeur die grensdistrikte verwoes is, en die meeste inwoners geruÔneer is.

4.Ons kla oor die onregverdige blaam wat op ons gewerp is deur betrokke en oneerlike persone, onder die mantel van godsdiens, wie se verklarings in Engeland geglo word met die uitsluiting van alle getuienis in ons guns; en ons kan as 'n gevolg van hierdie vooroordeel, niks anders as die algehele ondergang van die land voorsien nie.

5.Ons is vasbeslote, waar ons ook al gaan, om die regverdige beginsels van vryheid te handhaaf, maar terwyl ons sal sorg dat niemand in 'n toestand van slawerny gehou word nie, is dit ons vaste voorneme om sodanige bepalings in stand te hou wat misdaad sal onderdruk en 'n gesonde verhouding tussen baas en kneg sal verseker.

6.Ons verklaar plegtig dat ons hierdie land verlaat met 'n begeerte om 'n rustiger lewe te lei as tot nou toe. Ons sal niemand molesteer, nog hulle van die kleinste besitting beroof nie, maar, as ons aangeval word, sal ons onsself ten volle geregverdig ag om ons lewe en besittings te verdedig, na die beste van ons vermoŽ, teen elke vyand.

7.Ons maak bekend, dat ons 'n stel wette vir ons toekomstige bestuur sal opstel, afskrifte sal vir algemene inligting na die kolonie gestuur word; maar ons maak van die geleentheid gebruik om te verklaar, dat dit ons vaste voorneme is om voorsiening te maak vir die summiere straf van enige verraaiers wat tussen ons gevind mag word.

8.Ons is van voorneme, om gedurende ons reis, en by ons aankoms in die land waar ons permanent sal woon, die inboorlingstamme in te lig oor ons voornemens, en ons begeerte om in vrede en in 'n vriendskaplike verhouding met hulle te lewe.

9.Ons verlaat hierdie kolonie in 'n vaste sekerheid dat die Engelse regering niks meer van ons moet verwag nie, en ons sal toelaat om onsself in die toekoms te regeer sonder inmenging.

10.Ons verlaat nou die vrugbare land van ons geboorte, waar ons groot verliese en voortdurende ergernis moes ly, en betree 'n wilde en gevaarlike gebied; maar ons gaan met 'n vaste vertroue op 'n alsiende, regverdige en barmhartige Wese, wie ons sal strewe om te vrees en nederig te gehoorsaam.Op gesag van die Boere wat die Kolonie verlaat het."
(Geteken) P. Retief

Granietstandbeeld van Piet Retief, Goewerneur van die Voortrekkers, op die noordoostelike hoek van die Voortrekkermonument, Pretoria. Dit is een van die monument se vier hoekwagte, elk 5.5m hoog, wat 'n erewag vorm vir die monument. Die hoekwagte is ontwerp deur Frikkie Kruger, en uitgevoer deur geselekteerde beeldhouers, met graniet van steenwerkfirma Sinclair.
Photo: Joonas Lyytinen 2006 Wikimedia Commons  
 
Kerkenberg

Upon arriving in the Free State, there was a dispute amoungst the Boers as to the final, proposed destination of the great trek. Piet Retief chose Natal. Here at the foot of the Kerkenberg, he left his laager on 7 october, 1837 with 14 men to reconnoitre Natal in advance. His daughter Deborah painted her fathers name on a rock to commemorate his birthday.

Kerkenberg, across the border, but accessible by car from Bergville

Photo: http://www.senecahillperennials.com/index.php?page=february-15-2008 visited October 17, 2010
 
Retiefklip

In 1837 Deborah Retief, daughter of the Voortrekker Piet Retief, painted her father's name on a rock on his birthday. This rock is known as Retiefklip (Retief's Rock), and can be seen east of Sterkfontein Dam.